Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Ongeskonde deur Alwyn Uys: ’n boekresensie

$
0
0

https://www.nb.co.za/en/view-book?id=9780796322135

Ongeskonde
Alwyn Uys
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796322135

Daar kan (letterlik) boeke geskryf word oor Alwyn Uys. Hy is ’n nederige, aangename, gelowige, plat-op-die-aarde-mens wat jou dadelik aangryp sodra hy begin getuig. Ek het die voorreg gehad om Alwyn persoonlik te ontmoet en kan eerlikwaar sê sy menswees is groter as sy gebrek. Ek het nie eers die rolstoel opgemerk nie. Dit was ’n ongelooflike ervaring om ’n aanbiddingsdiens by te woon, en dis ’n eer om gedagtes oor sy boek, Ongeskonde, weer te gee.

.............
Ek het die voorreg gehad om Alwyn persoonlik te ontmoet en kan eerlikwaar sê sy menswees is groter as sy gebrek. Ek het nie eers die rolstoel opgemerk nie.
.............

Breyton Paulse meld tereg op die voorblad: “Dit is ’n voorreg om Alwyn te kan ken, sy storie is ’n inspirasie vir baie mense. Ek haal my hoed af vir wat hy bereik het ten spyte van sy omstandighede.” Ek kan nie méér met hierdie stelling saamstem nie. Alhoewel baie mense dalk van Alwyn weet as gevolg van sy ongeluk en uitstekende sportprestasies wat hy daarna bereik het, is daar soveel meer rondom Alwyn. Voor en ná sy ongeluk.

Alwyn onthou dat hy van kindsbeen af ’n sinvolle en bevredigende lewe wou lei waar hy waarde toevoeg tot almal rondom hom se lewens. Dié uitkyk was tot sy voordeel, want optimisme en om die goeie in situasies te probeer raaksien is altyd ’n bonus. Alwyn verwys na dié uitkyk as ’n moontlike manier waarop hy aan trauma en slegte gebeurtenisse in sy lewe betekenis gee. As uiters aktiewe kind het hy alles saam met sy broer, Johann, en pa, Gerhard, gedoen en hulle was ’n baie avontuurlustige spannetjie. Hulle het baie ure saam in die buitelewe deurgebring, besig om te jag, vis te vang, fiets, perd of motorboot te ry of te snorkel in St Francisbaai. Hul lewens het ongelukkig ’n drastiese wending geneem toe Gerhard en sy vrou geskei het toe Alwyn nege jaar oud was en hulle saam met hul ma, Libby, na Pretoria verhuis het. Dit het ’n hartverskeurende  ommekeer gebring om vakansies tussen sy ouers te deel totdat hy later jare by sy pa gaan woon het. Gerhard se woorde “Ons almal word gebore met talente en gawes wat die Here vir ons gee. Ons werk is om dit tot die beste van ons vermoë te benut” speel ’n groot rol in Alwyn se lewe. Op daardie stadium was die plan om sport sy loopbaan te maak, omdat hy ’n ywerige rugbyspeler was. Ná skool was hy by die Haaie se rugby-akademie en daarna het hy BCom (Logistiek) aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Alwyn onthou sy eerste blootstelling aan hoe genadeloos die lewe kan wees toe hy op 21 ’n groot terugslag gehad met sy gesondheid. Die lewe respekteer nie wie jy is nie, dit vat sonder om te vra en maak geen onderskeid nie. Alwyn se uitkyk op die lewe is ’n deurslaggewende faktor in sy gesondheidsbeproewinge. Dit was maar die begin van ’n uitdagende gesondheidshoofstuk in Alwyn se lewe wat niemand kon voorsien nie.

Op 13 Desember 2014 het Alwyn se lewe onherroeplik verander toe sy motor die pad verlaat en gerol het op pad van St Francisbaai na Kirkwood. Alwyn is uit sy motor geslinger en hy is basies van net onder sy bors, by die T8-werwel, verlam. Sy liggaam was flenters, sy gees verniel en die eerste paar dae kon hy nie beweeg nie. ’n Geestelik en fisiek intense tydperk het voorgelê waar Alwyn moes aanpas en homself weer moes leer vind. Verskeie operasies is gedoen; 12 weke in die rehabilitasiesentrum en fisioterapie en ’n lewe in ’n rolstoel was nie maklik nie. Tuis was dit baie uitdagend omdat hy moes leer om homself te versorg en alleen oor die weg kom. Die eerste jaar na die ongeluk het hy by sy pa se maatskappy gewerk en tussendeur het hy fisioterapie ontvang. Dit was ’n enorme aanpassingstydperk – ’n tyd waar hy baie eensaam was in ’n stryd teen sy rolstoel wat hy gesukkel het om te aanvaar. Om positief te wees was ’n daaglikse inspanning.

.............
Op 13 Desember 2014 het Alwyn se lewe onherroeplik verander toe sy motor die pad verlaat en gerol het op pad van St Francisbaai na Kirkwood. Alwyn is uit sy motor geslinger en hy is basies van net onder sy bors, by die T8-werwel, verlam. Sy liggaam was flenters, sy gees verniel en die eerste paar dae kon hy nie beweeg nie.
.............

Genadiglik was daar ’n draaipunt waar Alwyn die daadwerklike besluit geneem het om weer te begin leef: die besef dat die Here verwagtinge vir sy lewe het. Dit was die begin van Alwyn se “nuwe lewe”. Baie mense moet eers rock bottom bereik voordat hulle weet wie hul is en hopelik dié geleentheid gebruik om ’n nuwe, stewige fondasie te bou. Gelukkig was dit die geval met Alwyn. Hy het besef dat God met elkeen ’n plan het wat baie groter is as ons eie siening van onsself, ons omstandighede of wat met ons gebeur. Mens kan dit nie genoeg beklemtoon nie: Iemand se gebrek bepaal nie sy identiteit nie. Dit het tyd en moed geverg dat hy sy situasie in perspektief sien, maar daardeur kon hy aanvaar dat God ’n doel het met alles, ook met sy lewe.

As kind was Alwyn se gunstelingverhaal die een van Dawid en Goliat. Soms word ’n Goliat in ons pad geplaas sodat ons die Dawid in ons kan ontdek. Ná die ongeluk het hy gewonder wat die doel van sy lewe is, maar met die voltooiing van die Half-ystermankompetisie het hy besef watter impak sy lewe op ander kan hê. Alwyn se roeping om God se Woord te verkondig sou nie moontlik gewees het sonder beproewings nie. Goliat het hom nie verslaan nie, dit het hom bloot laat besef wat God in hom geplaas het.

Met dié positiewe kopskuif en gesindheid het Alwyn weer begin oefen en fietsry, in 2016 Kaap toe verhuis, en op 2 Junie 2019 aan die Half-ystermankompetisie in Durban – die begin van alles. Daarna het Alwyn gevoel of hy enigiets kan doen wat oor sy pad kom. Verskeie mylpale het gevolg: Hy het die eerste parapleeg ter wêreld geword om van Robbeneiland na Bloubergstrand te swem; hy neem deel aan driekampe, uithouvermoërenne en marathons.

En die einde is niet in sig – Alwyn het nog baie doelwitte wat hy wil bereik.

Vandag kombineer Alwyn sport en die bediening, en tree as motiveringspreker by kerke en skole op waar hy sy lewensverhaal deel en die boodskap van hoop bring.

............
Hierdie is beslis ’n verhaal waar ’n mens onomwonde kan sê Alwyn is ’n ongelooflike inspirasie vir ieder en elk. Ongeskonde is ’n onvergeetlike verhaal van ’n merkwaardige persoon.
................

Ongeskonde is ’n aangrypende en emosionele vertelling wat ’n mens lank bybly nadat jy die laaste bladsy gelees het. Dit lees gemaklik, is boeiend en neem jou saam met Alwyn op reis: sy emosies, teleurstellings, wedervarings, fisieke en geestelike pyn en die inspirerende uiteinde waar hy sy Goliat verslaan het. Hierdie is beslis ’n verhaal waar ’n mens onomwonde kan sê Alwyn is ’n ongelooflike inspirasie vir ieder en elk. Ongeskonde is ’n onvergeetlike verhaal van ’n merkwaardige persoon.

The post <em>Ongeskonde</em> deur Alwyn Uys: ’n boekresensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>