Titel: Sierra Six
Skrywer: Mark Greaney
Uitgewer: Sphere
ISBN: 978-0-7515-8538-4
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Mark Greaney is meer bekend as Tom Clancy se medeskrywer van Locked on, Threat vector en Command authority, asook vier boeke ná Clancy se afsterwe in 2013. Met Sierra Six, die 11de boek in die Gray Man-reeks, is dit duidelik dat Greaney lankal nie meer in Clancy se skaduwee staan nie. Inteendeel, hy sweef saam met internasionale blitsverkopers soos Vince Flynn, Ben Coes en Brad Thor aan die spits van politieke rillers.
Net soos Flynn se American assassin ons meer van Mitch Rapp se agtergrond vertel het, doen Greaney dit met Sierra Six. ’n Móét-lees vir Gray Man-volgelinge en ’n goeie begin vir nuwelinge.
Kortliks: Voordat Courtland Gentry, ’n voormalige CIA-operateur met die kodenaam Violator, bekend was as die Gray Man, was hy eers Sierra Six, die junior in Golf Sierra, ’n paramilitêre CIA-teenterrorisme-eenheid wat deur Zack Hightower gelei word. Die vorige twee “Sixes” is albei in aksie dood en almal verwag dat “KIA” binnekort ook agter sy naam gaan staan.
Tydens die operasie moet Golf Sierra ’n offisier in die Foreign Coordination Unit of the Inter-Services Intelligence agency of Pakistan genaamd Murad Khan, aka Pasha the Kashmiri, elimineer. Daar is vas geglo hulle het daarin geslaag totdat Court en Khan mekaar 12 jaar later in die Turkse ambassade in Algerië raakloop. Hierdie keer is Khan besig om massamoord op nie-Moslems te beplan.
Om die spanningslyn nog stywer te trek, word sy huidige hanteerder, Priya, opgespoor, ontvoer en na Indië gestuur. Om haar te bevry, benodig Court sy voormalige baas, Matt Hanley, se hulp.
Die boek is propvol aksie, gewere, bomme en tegniese besonderhede waaraan ons in Clancy-verhale gewoond geraak het. En om die spanning lekker uit te rek, spring die hoofstukke heeltyd tussen die hede en verlede rond.
Sierra Six kan alleenstande gelees word.
Die Gray Man-film is op 15 Julie 2022 vrygestel met Ryan Gosling en Chris Evans in die hoofrolle.
The post Propvol aksie: <i>Sierra Six</i> deur Mark Greaney, lesersindruk appeared first on LitNet.