Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Tao van wakker word – spirituele gids tot innerlike ontwaking deur Abel Pienaar: ’n lesersindruk

$
0
0

Tao van wakker word
Abel Pienaar

Naledi
ISBN: ISBN 978 1 928530 37 4

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

.......

Abel Pienaar (1969–2021) se heel laaste boek, wat kort voor sy heengaan verskyn het, is ’n wonderlike toevoeging tot die versameling boeke wat hy nagelaat het. Die boek verskil nogal heelwat van sy ander boeke.

...........

Abel Pienaar (1969–2021) se heel laaste boek, wat kort voor sy heengaan verskyn het, is ’n wonderlike toevoeging tot die versameling boeke wat hy nagelaat het. Die boek verskil nogal heelwat van sy ander boeke. Boeke soos Die dans met God, God se oë is blou en Die oorkantste oewer was tipies meer in essayformaat geskryf, met bepaalde spirituele temas. Daarteenoor kan Tao van wakker word tereg  as ’n gids beskryf word (soos die subtitel inderdaad ook aandui). Dit is ’n boek met ’n eenvoudige maar kragtige boodskap. ’n Boodskap wat eintlik maklik is om te verstaan, maar so moeilik is om toe te pas. Pienaar is bekend daarvoor dat hy veral put uit Oosterse spirituele tradisies, soos die Boeddhisme, maar dan ook veral, soos in hierdie boek, uit die Taoïsme. Hy integreer egter gedurig daardie tradisies met dié van die Christelike tradisie, waarin hy ook so goed onderlê is. Daar is altyd stof in die Bybel wat aansluit by, of wat ook as goeie voorbeelde dien van, wat die Taoïsme ook probeer sê.

Die kort van die lank is dat Pienaar met Tao van wakker word opnuut fokus op die mens se neiging tot ongesonde konseptuele denke. Ek stel die dinge nou op maniere waarop dit nie presies in die boek staan nie, maar my eie interpretasie daarvan. Die verlede en die toekoms, beide van daardie dinge bestaan nie regtig nie. Dit is gewis waar, want al wat die mens eintlik oor die verlede het, is ons herinneringe. Die gedagtes oor die verlede. En ook darem artefakte en dokumentasie, maar die geheue staan sentraal, veral in emosies. En hierdie gedagtes van herinneringe is nie die verlede self nie. Inteendeel, mens kan sê dat elke keer wanneer die mens aan die verlede dink, dan herskep mens die verlede opnuut. Ons herinneringe is ook maar die resultaat van die mens se vermoë om konseptueel te kan dink. Dieselfde is waar van die toekoms. Hoeveel van ons vrese word ooit werklik waar? Mens vrees die buurman en dan vergiftig jou eie lewensmaat jou. Dié tipe van ding.

Ons hou tog so baie van stories. En dan veral ons eie opgemaakte stories, waaraan ons verknog raak. Waaraan ons vasklou, selfs al vergiftig dit ons dikwels. Ons is Suid-Afrikaners. Ons is Afrikaners. Ons het dié of daai beroep. Ons is dokter sus en so en advokaat dié en daai en direkteur-generaal x, y en z. Dié is ons kerk en daai is ons doktrine. Of miskien het ons “anders” begin dink oor die jare en toe so ’n bietjie van koers verander. Hoe ook al, elkeen het maar ’n storie. En ons wil ook deel wees van mekaar se stories, maar is ons stories ’n ware weerspieëling van wie ons werklik is?

Foto-erkenning: Inactive account – ID 18121281, https://pixabay.com/photos/zen-yin-yang-spirituality-harmony-5533487/

Ons is dikwels slawe van gister of van môre. Ons vrees die toekoms. Of ons bou lugkastele oor die dag wat ons dalk die Lotto gaan wen. Die skip gaan inkom. Of ons hunker terug na gisters. Toe ons nog nie palissades en alarmsisteme gehad het nie. Toe die kinders winkel toe kon loop en swiets gaan koop het. Toe jong manne nog “manne” geword het op die landsgrense. Of miskien is dit ’n geliefde lewensmaat wat gesterf het. Of ’n vriend wat verander het. Van wie mens vervreem het. Die wêreld is ’n kookpot van skokke vir diegene wat te veel beheer daaroor wil uitoefen. Maar wat kan ons wel beheer? Ons kan beheer neem van ons gedagtes op die spesifieke oomblik waarin ons nou leef. Hoe ons dink oor dinge. Ons doen dit nie, maar ons kan leer om dit te doen. Ons kan kies om nie in die verlede of in die toekoms te lewe nie, maar om die beste te lewe waar ons nou is. Dit beteken nie byvoorbeeld dat mens geen beplanning moet doen of nie krities oor die verlede hoef te dink en te maak of dit nooit bestaan het nie. Maar dit beteken dat mens nie die hede moet opoffer vir herinneringe aan wat was, of aan wat kon wees, of aan wat nog dalk sal wees eendag in die verskiet nie.

Dit laat my wonder: Het die legendariese antieke Griekse leermeester Plato nie iets soortgelyk aan mense onderrig nie? Dat die mensdom die essensie misloop deur hulleself blind te staar in die vlietende, die tydelike, die verganklike? Baie van ons probleme in die lewe lê juis opgesluit in verkeerde gewoontes en gedrag wat ons aangeleer het. Woede. Haat. Onvergenoegdheid. Onvergewensgesindheid. Rassisme. Gierigheid. Materialisme. Onverdraagsaamheid. Hoogmoed. Die lys sal aan- en aangaan as mens eers begin. Al hierdie dinge is aangeleer. Dit is nie wie ons werklik is nie. Om te leer is dus heel dikwels juis nie om nuwe dinge aan te leer nie, maar eerder om ou verkeerde dinge af te leer. Of dalk om goeie dinge te herleer. Ons vrese, ons illusies oor wie ons is, oor wat kan wees of kon gewees het – dit is nie wie ons werklik is nie. Maar daardie besef moet eers tot ons deurdring en dan kan ons bewustelik daarvan wegstap. Met Tao van wakker word verskaf Pienaar vir die leser ’n praktiese model van presies hoe om dit te doen.

’n Welkome toevoeging tot die boek is ’n volledige vertaling van die Tao te ching (die sogenaamde Boek van die weg) in Afrikaans, soos vertaal deur Pienaar. Dit het reeds voorheen verskyn, maar dit is nie altyd maklik om in die hande te kry nie. Die Tao te Ching is werklik ’n merkwaardige geskrif, en een wat mens maar gerus meer gereeld kan lees, en meer oor kan leer. Nodeloos om te sê is Pienaar se heengaan ’n reuseverlies. Met sy laaste boek lewer hy egter weer eens ’n uitstekende bydrae tot die Afrikaanse boekeskatkis. Dit is miskien gepas om dan af te sluit en te volstaan met ’n sin of twee uit die Tao te Ching (bl 64):

Daarom begeer die wyse niks nie.
Hy heg geen waarde aan goedere wat skaars is nie.
Hy leer die kuns aan om te ont-leer.

Lees ook:

Tao van wakker word deur Abel Pienaar: ’n Persoonlike indruk en huldeblyk

The post <em>Tao van wakker word – spirituele gids tot innerlike ontwaking</em> deur Abel Pienaar: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>