Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Luuk Gruwez: Weerbare weemoed, uit Nederlands vertaal deur Hennie van Coller

$
0
0

Luuk Gruwez: Weerbare weemoed, uit Nederlands vertaal deur Hennie van Coller
Kraal Uitgewers
ISBN: 9781990915055

“Nie langer sal ek julle liefhê nie of haat.”

Hierdie slotreël in Luuk Gruwez se gedig “Afscheid van een recensent” het my vir ’n oomblik laat voel dit is dalk vir myself tyd om in my vulpen te val. Tot my potloodstrepie onder die Afrikaanse woorde van Hennie van Coller, “slaafs onderworpe te wees aan oordele” vir die Nederlands “slaafs aan oordelen te onderwerpen” al weer my somber gedagtes laat opsy staan het.

“Te onderwerpen” moet na my gevoel eenvoudig vertaal word as “te onderwerp”. In albei gevalle bly die kernsuggestie, naamlik dat sowel resensent as skrywer (ook die leser?) tot slaaf gemaak word, behoue. “Onderworpe te wees aan” is egter te veelwoordig, laat die poëtiese spanning skiet gee.

Ek vrees dat nie digter of kritikus so maklik aan die lot kan ontsnap soos Gruwez hier oënskynlik droogweg digterlik beweer nie. Maar dit is deel van die ironie waarop Van Coller in sy inleiding wys en oor vervat word in die titel van die bloemlesing, Weerbare weemoed, wat hy self bedink het.

........

Die vertaler het die bloemlesing saamgestel uit Gruwez se mees onlangse bundels. ’n Mens kan jou afvra op watter gronde die seleksie plaasgevind het. Dit word helaas nie toegelig nie.

.........

Die vertaler het die bloemlesing saamgestel uit Gruwez se mees onlangse bundels. ’n Mens kan jou afvra op watter gronde die seleksie plaasgevind het. Dit word helaas nie toegelig nie.

Voordat ek na besonderhede kyk, wil ek dit graag duidelik stel: Ek is dankbaar dat Van Coller deur die boek die aandag opnuut vestig op hierdie Vlaming se ryk poësie. En wat ek ook al verder mag uitwys, Weerbare weemoed bevat vertalings waaraan ek groot plesier beleef het. Dat die boek ook die oorspronklike Nederlandse tekste bevat, is ook waardevol.

Van Coller is geen naïewe vertaler nie en reeds in die inleiding noem hy so ’n onderneming “’n sprong in die duister”. In poësie, meer nog as by prosa, kom daar immers ’n oneindige aantal taalfaktore op die spel. Dit is egter inherent aan die mag en waarde van die digkuns. En aan die ewige uitdaging aan sowel leser as vertaler.

..........

Van Coller is geen naïewe vertaler nie en reeds in die inleiding noem hy so ’n onderneming “’n sprong in die duister”. In poësie, meer nog as by prosa, kom daar immers ’n oneindige aantal taalfaktore op die spel. Dit is egter inherent aan die mag en waarde van die digkuns. En aan die ewige uitdaging aan sowel leser as vertaler.

............

Kom ek gee my kantaantekeninge by die vertaling van ’n enkele gedig, “Fugitief” (“Vlugtend”), waarvan ek die twee tekste onder aan die resensie weergee.

Die titel gaan terug op die Frans “fugitif” en is onmiddellik dubbelsinnig: voortvlugtig sowel as vlugtig, verganklik. Dit is belangrik dat laasgenoemde steeds onderliggend bly in die gedig. In die titel wat die vertaler gekies het, is dit sekerlik nie afwesig nie, maar die leser se toegang tot die suggestie is ongelukkig baie vaer.

In die eerste strofe word die beeld gevestig van ’n vlugteling met sy slaapgoed op die rug wat onmiddellik in reël 2 geassosieer word met sy uiteindelike grafsteen (“zerk”). Moet die Afrikaans nie wees “voortsleep aan die grafsteen” nie?

In strofe 2 word die beginwoord “doordat” direk as “deurdat” vertaal. Helderder sou egter “omdat” gewees het. In die res van die reël word “uit” in die oorspronklike vervang met “deur”: “doordat ik ook besta uit wat ik draag” word “deurdat ek ook bestaan deur wat ek dra”. “Deur” is hier nie gelyk aan die Nederlands “uit” nie. Laasgenoemde is ’n veel direkter gelykstelling. Dit sou akkurater gewees het om gewoon “uit” in die Afrikaans te behou.

In die slotreël van die tweede strofe word “pis” in die Nederlands vertaal as “urine”. Waarom word hierdie versagting aangebring in wat in die oorspronklike wel deeglik as kras bedoel word saam met die woorde wat dit begelei?

Die tweede reël van strofe 3 word nogal avontuurlik vertaal: “En dan een hart dat zowel popelde als bonkte” word “En dan ’n hart wat sowel klop as galop”. Die Afrikaans bied op sigself ’n mooi beeldende en klankryke frase. Die teenstellende emosies van “popelde” (onder meer in spannende verwagting verkeer, dus positief) en “bonkte” (hard stamp, klop met selfs die suggestie van vasgekeerdheid, dus negatief) word helaas in die proses wegvertaal.

“Kwijt” in reël 2 van die slotstrofe (“Is het nog ver naar waar ik kwijt kan zijn”) hou inderdaad die moontlikheid in van vryheid verwerf deur die vlugtog te beëindig, maar het ook ’n negatiewe assosiasie in die sin van ’n kwytraak van die self – dus die dood. “Vry” in “is dit nog ver na waar ek vry kan wees” is daarom te beperk.

In die belangrike slotreël word die verafrikaansing van “zeulen” in reël 1 van strofe 1 as “voortsleep” hervat in “ek sleep maar voort”. Hierdie woorde is ’n vertaling van “ik sjok maar verder”. “Sjokken” hou inderdaad die betekenismoontlikheid in van “sleep”. Die versterkende element in dié verband, die nadruk op die las wat gedra word en die vermoeidheid word egter in die Afrikaans onderbeklemtoon. My voorstel sou eerder “sukkel” gewees het.

In die vertaling van “Fugitief” (“Vlugtend”) gaan daar dus heelwat nuanses verlore en slaag die vertaler nie daarin om Gruwez se poësie in sy volle rykheid weer te gee nie.

Die bloemlesing bevat heelwat voorbeelde van waar die vertaler kortpad sny. So is die treffende slotbeskrywing van die geïdealiseerde natuur van “Wijvenheide” (’n Belgiese natuurreservaat): “de zilverreiger broedt daar op een spiegelei”. Die Afrikaans lui: “Die silwerreier broei daar op ’n eiergeel.” ’n “Spiegelei” is egter ’n gebakte eier waarvan die dooier, die eiergeel, heel gebly het. Dit is dus nie slegs ’n eiergeel nie, maar die hele gebakte inhoud van ’n eier. Daarby is die “spiegel”/“spieël”-assosiasie ook vroeër in die Nederlandse gedig aktief.

In verskeie gevalle word die Nederlands egter juis op ’n vir Afrikaans onnatuurlike wyse behou. Uit “God betreurt Mozart & Co” word “zeurderige kinderen” “seurderige kinders” (Afrikaans sou kon wees “klaerige”, “kermende”, ens). Uit “Vroegere liefsten” word die woord “hersens” behou terwyl die Afrikaans “brein” heeltemal funksioneel sou kon gewees het. Ek het daarteenoor waardering vir die vertaling van byvoorbeeld “elke wippartij” (seksdaad) as “elke stotery” in “Veldeke forever” en “hoogtewerkers met borstelige brauwen” as “wolkekrabberwerkers met woeste wenkbroue” by “De dag van het laatste gedicht”.

Helaas word Afrikaanse lesers op ’n glibberige pad geplaas wanneer “Zij geven kleuters sjaals en wollen wanten” aangebied word as “Hulle gee wolserpe en moffies aan kleuters.”

In ’n aantal gedigte word geslagsverwisselings ongemotiveerd aangebring. In “Uit: ’aan een collega I’” word die poësie uitgebeeld as ’n vroulike wese (“zij”) wat selfs tot op die digter-spreker se skoot klim. Die vertaler maak haar egter ’n “dit” en later ’n “hy”. In “Ballade van de bom” word die vroulike “lieve lente” wat soms skielik wreedaardig kan optree, tot ’n manlike wese vertaal.

........

Dit het weinig sin om op meer voorbeelde van hierdie aard te wys. Dit sou wel gebaat het as die vertaling nog ’n keer deur ’n kritiese oog geweeg kon gewees het voor publikasie.

.........

Dit het weinig sin om op meer voorbeelde van hierdie aard te wys. Dit sou wel gebaat het as die vertaling nog ’n keer deur ’n kritiese oog geweeg kon gewees het voor publikasie. Gelukkig kan die leser steeds na die Nederlands kyk en aan ’n heerlike oefening deelneem; is dit ’n aktiwiteitsboek vir toegewyde taalstoeiers. Bo alles bly die groot waarheid vir my ook vir Afrikaans geld: Sonder waagmoedige vertalers sou daar geen wêreldletterkunde bestaan nie.

.........

Gelukkig kan die leser steeds na die Nederlands kyk en aan ’n heerlike oefening deelneem; is dit ’n aktiwiteitsboek vir toegewyde taalstoeiers. Bo alles bly die groot waarheid vir my ook vir Afrikaans geld: Sonder waagmoedige vertalers sou daar geen wêreldletterkunde bestaan nie.

...........

  • Wium van Zyl

Oorspronklike Nederlands

Fugitief

Zie mij hier vluchten, matras op de rug,
gebukt, alsof ik loop te zeulen met de zerk
waaronder ik wellicht bezwijken zal.
Het is de vraag waar ik begin en waar ik eindig.

doordat ik ook besta uit wat ik draag.
Ik sleep een wereldoorlog met me mee
en liefde in die vlekkerige tijk, het sperma
en het zweet, wat pis, wat bloed en tranen:

de stoffelijke overschotten van een droom.
En dan een hart dat zowel popelde als bonkte,
een hart dat zelfs bij haar nooit rust vond
omdat geen strijd zo woelt als in een bed.

Zie mij hier vluchten, held der helden,
Is het nog ver naar waar ik kwijt van zijn?
In Flanders fields the poppies blow. Al is het
nergers elders beter, ik sjok maar verder. Tot ik val. 

Afrikaanse vertaling

Vlugtend

Kyk hoe ek hier vlug, matras op die rug,
gebuk, asof ek voortsleep met die grafsteen
waaronder ek seker nog gaan beswyk.
Dis die vraag waar ek begin en waar ek ophou

deurdat ek ook bestaan deur wat ek dra.
Ek sleep ’n wêreldoorlog saam met my
en liefde in die vlekkerig beddegoed, die sperm
en die sweet, bietjie urine, bloed en trane:

die stoflike oorskot van ’n droom.
En dan ’n hart wat sowel klop as galop,
’n hart wat selfs by haar nooit rus vind
omdat geen stryd so hewig is as in ’n bed nie.

Kyk hoe ek hier vlug, held onder die helde.
Is dit nog ver na waar ek vry kan wees?
In Flanders fields the poppies blow. Al is dit
nêrens ooit beter nie, ek sleep maar voort. Tot ek val.

The post Luuk Gruwez: <em>Weerbare weemoed</em>, uit Nederlands vertaal deur Hennie van Coller appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>