Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Buigbreek deur Margaret Cordier: ’n lesersindruk

$
0
0

Foto: https://www.youtube.com/watch?v=mE8_tBckx9o

Buigbreek
Margaret Cordier
Cordis Trust
http://www.cordistrust.co.za/cordis-trust-publikasies.html

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

.......

Buigbreek is die debuutbundel van die digter Margaret Cordier (geb 1962). Cordier publiseer haar verse veral op LitNet, waar sy volgens haar skrywersprofiel ook soms prosa skryf en opvoer.

........

Buigbreek is die debuutbundel van die digter Margaret Cordier (geb 1962). Cordier publiseer haar verse veral op LitNet, waar sy volgens haar skrywersprofiel ook soms prosa skryf en opvoer. Op die agterblad van die bundel word die bundel beskryf as "die onvoorspelbare lewensreis van die mens as togganger, nomaad en pelgrim oor berge, deur valleie, woestynsand, water en soms ook boorde". Twee dinge staan hier uit, waarvan een die woord "pelgrim" is. Dit is reeds hieruit duidelik watter soort taal mens in Buigbreek te wagte kan wees. Godsdienstige inspirasie is iets wat baie algemeen is in die Afrikaanse letterkunde. Dit is ook geen verrassing nie, gegewe die invloed van die Bybel en die Christelike geloof in Suid-Afrika en op Afrikaans. Met " sluit Cordier aan by die tradisie. Wat andersins ook opval uit die buiteblad is die innerlike landskap van die mens, wat voorgestel word as een met verskillende landskappe, waarvan sommige uitdagend is, afgewissel met makliker landskappe vir die mens om te deurkruis. Die mens bly die ewige nomaad, en spesifiek die binnewéreld van die mens word gekenmerk aan dié kwaliteit van gedurige afwisseling en verandering.

Die titel van die bundel is oorgeneem uit die vers "Jy is" (bl 103):
meer as hande oor ’n moeë rug
wat gebukkend aan ’n boord
buigbreek aan die rant.

Die bundel is opgedeel in vyf afdelings en die eerste een is getiteld "Oewers van jou mond". Daar is heelwat spirituele verse in hierdie afdeling, en veral die openingsverse skep amper die indruk dat die hele bundel hoofsaaklik uit godsdienstige verse gaan bestaan. "Sonder woorde" wyk egter van die patroon af en so ook "Argeoloog".  Die tweede afdeling is getiteld "Die oggend ruik na seebos". In hierdie afdeling kom die verteller se eie stem sterker na vore. Die natuur bied ook heelwat inspirasie vir Cordier se verse. Ook dit is ’n baie algemene verskynsel in die Afrikaanse letterkunde, maar hier is dit veral die Weskus se eiesoortige fauna wat in van die verse opduik, byvoorbeeld "Augustus in Namakwaland". Dit word weer afgewissel met verse oor die bosveld, byvoorbeeld "Bosorkes in mikrokosmos" (20) en "Donderweer in die Waterberg" (71). Daar is ook verse wat ander geografiese dele van die land as inspirasie het, soos "My Tankwa-liefde" (63), "Clanwilliam" (58) en "Ster" (59).

Deel drie en deel vier is onderskeidelik getiteld "Ek vee oor swart nagte" en "Lyke van jou glo". Wat die struktuur van die verse betref, is daar heelwat variasie. Amper al die verse is in ’n korter formaat. Die verse in die bundel sou nie as "praatpoësie" beskryf kon word nie, hoewel sommige verse wel aan die praatpoësie herinner, veral "Vyf Rose-tee". Die meeste verse volg egter eerder ’n patroon wat miskien as die meer tradisionele Afrikaanse vers beskryf kan word en tipiese verdigsels is, maar met baie variasie. Daar is rym wat ingespan word, maar dit is geensins geforseerd of oordonderend nie. Struktuur is egter beslis belangrik in die bundel, soos gesien kan word in byvoorbeeld "Villanelle" (93) in die laaste afdeling getiteld "Met heuning en lamproet berei".

.......

Die oorhoofse tematiek van Buigbreek is dié van die mens as nomaad, ewig op reis deur die hoogtes en die laagtes, die stiltes en die storms van die lewe.

........

Die oorhoofse tematiek van Buigbreek is dié van die mens as nomaad, ewig op reis deur die hoogtes en die laagtes, die stiltes en die storms van die lewe. Oor stilte word daar aangrypend geskryf in "Ingesluit" (44). Dit is ’n bundel van hoop, geloof en liefde, maar veral van hoop, soos byvoorbeeld in "Laatliefde" (41) geskets:

kyk ek op in jou oë
en lees die hoop
wat nou padlangs
die toekoms in loop

Die boodskap wat mens verder uit die bundel kan neem, is ook dat die mens self beheer kan en moet neem. Die tyd kan die mens se blik versag en vrede in die gemoed bring, veral as mens bewustelik daarna soek:

Vergifnis 2

As jy jou woorde kalligrafeer
en verwronge ratio’s sublimeer
maak die waarheid minder seer

soek ek steeds die eenvoud
in gekerfde kuishoutletters
van vergeef
wat lewe wek en ewig leef. (54)

Die bundel eindig met ’n vers getiteld "Plaashek" (104) wat ook iets hiervan eggo. Die plaashek is nogal ’n beeld wat tot baie mense sal spreek. Hierdie vers sou ’n baie goeie openingsvers vir die bundel gemaak het, omdat dit ook spreek tot die tema van hoop. Die verteller trek ’n vergelyking tussen die plaashek en die "hartshek". Daar is moontlikhede vir dié wat bereid is om die hek weer oop te gooi, die lewe weer in te laat, en opnuut die lewe in te adem:

maak jou hartshek wawyd oop
jou kallers sal dan huppel
en vry die veld in loop.

The post <em>Buigbreek</em> deur Margaret Cordier: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>