Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Onder die vlerke van jou liefde
Cas Vos
Naledi
ISBN: 978-1-928518-57-0
Cas Vos het hom nou reeds as hoogs bekwame vertaler van gedigte bewys, waaronder Il Paradiso van Dante wat erken is as ’n kragtoer. As teoloog is hy ook opgelei in die Bybelse tale. Juis daarom is dit nie ’n verrassing dat hy ook Hooglied uit die Hebreeus kon vertaal nie. Die bundel is egter meer as ’n blote vertaling. Dit is liefdeswerk oor die liefde. Daarmee verkry die bundel uiters besonderse en wonderbare betekenis. Die bundel sluit ook enkele gedigte uit die papiri en ook eie gedigte in.
Hooglied is ’n besonderse boek in die Bybel. Die skrywer of skrywers daarvan het ’n meesterstuk gelewer. Dit is onseker of dit wel deur Salomo geskryf is soos in die Bybel aangedui. Deur die eeue is dit op verskeie maniere interpreteer. Vos wys op die belangrikste wyses waarop dit verstaan is, naamlik as allegories-tipologiese vertolking, drama, kulties-mitologiese interpretasie, bruilofsliedere of ’n versameling liefdesliedere. In die Christelike interpretasie is dit dikwels as allegorie van die verhouding tussen Christus en sy bruidskerk verstaan. Vos wys daarop dat die eie aard van dié liedere in die Ou Testamentiese literatuur erken moet word. Daarom kies hy die standpunt dat Hooglied ’n versameling liefdesliedere is. Die wonder van die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou word besing. Hierdie liefde is ook nie minderwaardig nie, maar moet volledig erken word as iets wat van God kom. Dit is net so belangrik as enige ander vorm van Goddelike liefde.
Vos vertaal teksgedeeltes uit Hooglied en lig dit dan met uiters betekenisvolle inligting toe. Die Afrikaanse teks van Vos is kraakvars en aangrypend. Talle wendings, beelde en beskrywings is nuut en lei tot ’n indrukwekkende geheel.
Let op die eerste gedeelte, “Op die liefdesdrumpel”, waar die volgende reëls voorkom
Al is ek donkergetint, vra ek jou oë se guns.
Laat jou oë nie van my afdwaal nie, dit is die son
wat my so vurig met sy lig begloei het.
Wanneer Vos hom wend tot die tweede gedeelte, naamlik “Liefdesgesprek”, is daar weer eens die indrukwekkende vertaling van die beelde in Hooglied. Die beelde bou selfs spanningsvol op. Selfs die metafore en beelde wat uit die Midde-Oosterse omgewing kom, word nuut aangewend. Vos skilder dit lewend voor die leser af.
Met die stoetperd van Farao se wa
vergelyk ek jou, my vriendin.
Jou wange is liefde se soetgeure
tussen die oorringe;
pêrelsnoere versier jou hals.
Ek smee vir jou goue kettinkies
met silwerknoppies daarin.
Die gedeelte “Wagtyd in die natuur” is ’n hoogtepunt waarin Vos digterlik nie alleen die geliefdes se woorde laat leef nie, maar ook vir die natuur ’n pragtige stem gee. Hy skryf daarin ’n lieflike Afrikaans wat my beïndruk het en hardop gelees moet word. Die volronde klanke getuig van digterlike meesterskap.
Hy hou die liefdestema deurgaans vol en lig die betekenis van die Bybelse teks in die vertaling toe. Liefde verkry nuwe betekenis. Dikwels kan die leser ook al die sintuie inspan om die wonder van die metafore en beelde te beleef. Vos laat aan die oorpronklike outeurs reg geskied deur op sy beurt ’n besonderse vertaling daar te stel. Hy bied in die gedeelte “Die geslote tuin” opeenvolgende verwysings aan wat heerlik op die tong val en die sintuie betrek.
Nardus en safraaan, kalmoes en kaneel
saam met allerlei welriekende kruie,
mirre en aalwyn
saam met velerlei gesogte speserye.
Die vertaling van die gedeelte “Bewonderingslied 111” is ’n hoogtepunt in Afrikaanse liefdespoësie. Vos hanteer die lieflike beskrywing van die vrou in die oorspronklike op so ’n wyse dat sy ook in Afrikaans waarlik lewe verkry. Let op dié versreëls:
jou oë is vywers in bergpieke by die poort na die hemel
En
jou golwende hare is soos koningspurper
wapperend in vlegsels.
Hoe mooi is jy en so bekoorlik,
liefste, dogter van my vertroetelinge!
Die ander metafore en beelde bou ook hier op tot ’n lieflike geheel.
Vos sluit die vertaling van Hooglied af met die tema “Liefdesvervulling”. Ook hier vertaal hy die meesterlike grondteks op indrukwekkende wyse. Hy beeld die oerkrag van die liefde aangrypend uit. Die digters van Hooglied bied hier ’n hoogs bekwame voleinding van die liefdesliedere. Vos se Afrikaans beklemtoon die wonder van die liefde wat die dood verslaan.
Watervloed kan die liefde nie blus nie,
bruisende strome kan dit nie wegspoel nie.
In ’n tyd van onmin en selfs haat tussen mense bied Vos se vertaling van Hooglied iets van Van Wyk Louw se “laaste kuil van stilte tussen riet”. Die liefde tussen man en vrou word selfs ook meer – ’n loflied op God se liefde wat sigbaar in die wêreld is.
“Liefdesgedigte langs die Nyl” en “Liefdesvlerke” sluit die bundel af. Ewe-eens dig Vos in wonderlike Afrikaans. Die natuur word op unieke wyse betrek om die liefde te besing. Hy verwys byvoorbeeld na die maan, son en sterre in die laaste gedeelte. In “Misterie van die liefde” dig hy soos volg oor die maan:
Die maan klink ’n glasie en skink
lig vir die berge vol eeue se kreukels.
Onder vlerke van jou liefde is inderdaad ’n bundel wat met groot vreugde gelees kan word. Dit bied ’n nuwe blik op Hooglied en skep soveel interpretasiemoontlikhede dat lesers opnuut respek vir die Bybel sal kry. Tans is daar so ’n groot behoefte aan Afrikaans wat nuut en vars is maar tog groot eerbied vir die taal toon dat die bundel van Vos hoop skep. Cas Vos se liefdeswerk in hierdie bundel is nie alleen ’n loflied oor die liefde nie, maar is inderdaad ook ’n loflied oor die wyse waarop Afrikaans Bybelse en antieke tekste lewend maak. Met groot verwagting word na nog vertalings en bundels van Vos uitgesien.
The post <em>Onder die vlerke van jou liefde</em> deur Cas Vos: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.