Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Ingonyama en ander maats met leeueharte: ’n Kortverhaalbundel saamgestel deur Carin Krahtz – ’n resensie

$
0
0

Ingonyama en ander maats met leeueharte: ’n Kortverhaalbundel
Saamgestel deur Carin Krahtz
Uitgewer: Best Books, NB-Uitgewers
ISBN: 978-1-7760-7303-0

.......

Menige onderwyser, ouer of voog het moontlik al die stampvol boekrakke vol kinder- en jeugliteratuur in ’n boekwinkel gefynkam op soek na daardie ideale boek om ’n leerder, seun of dogter aan die lees te kry.

........

Menige onderwyser, ouer of voog het moontlik al die stampvol boekrakke vol kinder- en jeugliteratuur in ’n boekwinkel gefynkam op soek na daardie ideale boek om ’n leerder, seun of dogter aan die lees te kry. Afrikaanssprekende lesers vergeleke met sprekers van ander Afrikatale is besonder bevoorreg om ’n wye verskeidenheid gepubliseerde tekste tot hul beskikking te hê om in die individuele smake en voorkeure van jong lesers te voorsien wat selfs die traagste van lesers mag interesseer. Die hoop beskaam nie.

Die kortverhaalbundel Ingonyama en ander maats met leeueharte is een so ’n teks wat spesiaal saamgestel is vir leerders (en lesers) in graad 4 tot 6 wat Afrikaans as Eerste Addisionele Taal neem. ’n Uiteenlopende groep Afrikaanse skrywers, insluitend bekende skrywers van veral jeugliteratuur soos Annelie Ferreira, Anzil Kulsen, Cecilia Steyn, Christien Neser, Derick van der Walt, Fanie Viljoen, Nelia Engelbrecht, Rouxnette Meiring en Zelda Bezuidenhout het verhale tot die bundel bygedra. As samesteller het die jeugverhaalskrywer Carin Krahtz, wat in 2017 met die Sanlam-prys vir jeuglektuur (goud) vir haar roman Blou is nie ’n kleur nie bekroon is, daarin geslaag om ’n werklik inklusiewe bundel saam te stel wat nie alleen aan die vereistes van die KABV voldoen nie, maar ook die leefwêrelde van ’n meertalige en multikulturele klaskamer in ag neem. Gevolglik sal veral Suid-Afrikaanse lesers van Afrikaanse jeuglektuur met die karakters en die uitdagings wat hulle in die gesig staar in die verhale kan identifiseer, hetsy dit die goedhartige Annie in Jaco Fouché se “Die getuie” of die leesgierige Tracy in Carin Krahtz se “Neksleutelkind” is.

Die jong skrywer Chase Rhys, wie se roman Kinnes die leserspubliek behoorlik aangegryp het, het ook ’n bydrae tot die bundel gelewer. Sy kortverhaal “Die een” is in Kaapse Afrikaans geskryf en sodoende word lesers ook aan die variëteite van Afrikaans blootgestel. In “Operasie Rooitobie” plaas Henriëtte Linde-Loubser die klem op ekologiese bewustheid en die belangrike rol wat kinders kan speel in die epog van die Antroposeen. EKM Dido se treffende kortverhaal “Die dag van die stootskrapers” deel die pyn van Bonnie se ouma Rosalie wat haar huis in Distrik Ses weens gedwonge verskuiwings as gevolg van die Groepsgebiedewet moes verlaat. Belangrike geskiedkundige gebeure word hierdeur deur middel van fiksie aan ’n nuwe generasie jong lesers oorgedra.

.......

Hierdie kortverhaalbundel verskyn net betyds om met vrug in enige Afrikaans Eerste Addisionele Taal-klaskamer gebruik te word.

........

Hierdie kortverhaalbundel verskyn net betyds om met vrug in enige Afrikaans Eerste Addisionele Taal-klaskamer gebruik te word. Met die kreatiewe skryfprojek wat in die derde kwartaal van graad 4 tot 9 voltooi moet word, dien hierdie kortverhaalbundel as ’n geskikte teks wat leerders en onderwysers in die intermediêre fase vir dié taak kan gebruik. Die wye verskeidenheid temas wat in die kortverhale aan bod kom, verskaf meer as genoeg interessante en prikkelende onderwerpe wat leerders as deel van die navorsingskomponent in die kreatiewe skryfprojek kan benut. Die samesteller het nie alleen die teks gebruikersvriendelik vir die leerder uiteengesit nie, maar verminder terselfdertyd die onderwyser se werkslading deur elke kortverhaal van die nodige pre- en postleesaktiwiteite te voorsien. ’n Verdere bonus is dat die memoranda vir die onderskeie aktiwiteite gratis van die uitgewer se webtuiste afgelaai kan word. Die verrykingsaktiwiteite het veral my aandag getrek weens die verskeidenheid en kreatiwiteit waaraan leerders blootgestel word. Die kortverhale bied voldoende geleentheid vir leerders om woordeboeke in die klaskamer te gebruik en sodoende hulle woordeskat uit te brei en spelvermoë te verbeter. Die teks word verder aangevul met ’n volledige lys literêre begrippe wat op eenvoudige wyse aan die nie-Afrikaanssprekende leerder verduidelik word.

Ingonyama en ander maats met leeueharte is egter nie net nóg ’n kortverhaalbundel wat as voorgeskrewe teks in skole gebruik kan word nie. Hierdie bundel word ook vir selfgerigte leerdoeleindes aanbeveel. Ouers en/of voogde vra gereeld vir onderwysers hoe hulle hul seun of dogter se Afrikaanse begrips- en/of taalvermoë kan verbeter. Carin Krahtz as samesteller bied met hierdie kortverhaalbundel die ideale oplossing om moedelose ouers/voogde by te staan. Boonop sal selfs die trae jong leser by hierdie kortverhale aanklank vind.

.......

Boonop sal selfs die trae jong leser by hierdie kortverhale aanklank vind.

........

Die kortverhale is geskik vir die ouderdomsgroep en daar word tematies vir alle jong lesers se leesvoorkeure voorsiening gemaak, hetsy dit diereverhale, ’n mite, verhale oor vriendskap, drome, superhelde of ’n opwindende avontuur soos dié van Mila en Arno tydens hul safari in Carina Stander se “Wild en wonderlik” is. Binne die konteks van die Vierde Industriële Revolusie is veral Sidney Gilroy se “Zoem!”, wat in die jaar 2138 afspeel, relevant. Ook Fanie Viljoen se “Breinboks” sal die tegnologiese foendi’s in die klas en by die huis nuwe drome laat droom. Die teks word met treffende visuele stimuli gekomplementeer en woorde wat vir die nie-Afrikaanssprekende leser uitdagend sal wees, word deur middel van voetnotas in Engels vertaal.

Ingonyama en ander maats met leeueharte word ten sterkste vir elke klaskamer, biblioteek of leesgierige seun en dogter aanbeveel.

The post <em>Ingonyama en ander maats met leeueharte</em>: ’n Kortverhaalbundel saamgestel deur Carin Krahtz – ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795