Die Stella-moorde
Susan Cilliers
9780639602004
LAPA
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Toe ek nog kind was, was een van my grootste irritasies my ma se alewige opdrag dat ek moet laat weet as ek by die koshuis aankom. Sou ek na tien in die aand nog werk (as kelnerin), moet ek hulle laat weet. Hierdie rapportering het nooit einde gekry nie. Inteendeel, ek doen dit met my kinders ook. Die ouers van Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht was heeltemal gerus oor hulle dogters wat veilig by die koshuis is. Dit is mos ’n veilige plek wat allerhande risiko’s uitskakel. Maar as ’n tiener eers rooi hakskene begin kry, verander alles. En daar is absoluut niks verkeerd met hierdie toestand nie, dit is heeltemal normaal
Die moeilikheid begin gewoonlik as die ouers nie gemaklik is met die keuse van hul kind se vriend of vriendin nie. Daar word so baie raad gegee. Soos: Moenie ’n bohaai daaroor maak nie, dit sal vanself doodloop. Los jou kind om te leer wie hulle is en met wie hulle eendag saam wil oud word. Moenie inmeng in jou kind se ontwikkeling van sy/haar identiteit nie. Laat jou kind toe om seer te kry, sodat hulle kan leer die lewe het nie handskoene aan nie. Dit is jou kind se reg om sy/haar maats te kies.
Dit is alles goed en wel. Ons kinders word met al meer verantwoordelikhede gebombardeer, en seks is nie meer die vreeslike taboe wat dit in die ’70’s was nie. ’n Maagd is ’n rare verskynsel. As jy met my verskil, leef ons beslis nie op dieselfde planeet nie.
Ongelukkig is daar doodgewone mense tussen ons wat nie so doodgewoon is as wat hulle voorkom nie. Zander Bylsma is een van hierdie mense, en hy het Sharnelle in sy web van vernietiging probeer toespin. Gelukkig het sy die verhouding gestaak, maar sy was steeds bitter bang vir hom. Haar laaste poging om van hom ontslae te raak was egter nie ’n sukses nie. Sharnelle het haarself probeer beskerm deur haar beste vriendin, Marna, as ’n skans te gebruik sodat sy die nare waarheid kon versag. Ek is positief oortuig dat Marna hierdie voorstel gemaak het: “As jy dan self nie vir hom sê dat jy niks meer met hom te doen wil hê nie, sê vir hom ek wil julle nie meer saam hê nie. Of ek sê jou wat: Hy kan met my praat, dan sorteer ek hom sommer namens jou uit.”
Hierdie moontlike oplossing vir Sharnelle se Zander-probleem was egter ’n sneller vir Zander se wraak. Hy sou enige iets doen om Sharnelle vir homself op te eis. Daar was egter ’n klip in die pad: Marna. Hy moes van haar ontslae raak, sodat hy Sharnelle vir homself kan kry. ’n Oop koshuisdeur en ’n selfoonoproep het hom toegang gegee tot hierdie veilige plek waar die twee vriendinne gebly het. Hierdie besoek was dodelik en finaal. Hy het Marna uitgewis en Sharnelle moes gestraf word omdat sy hom verlaat het.
Daar is meer vrae as antwoorde vir hierdie meisies se ouers en vriende. Baie dinge kon anders gedoen en gesê gewees het. Maar dit gaan niks verander aan die verskiklikheid van wat gebeur het nie. Drie families is onherroeplik geraak. Dood is finaal, en Sharnelle en Marna sal nooit weer kan aansit vir ’n ete saam met hul gesinne nie. Zander se ouers moet daarmee saamleef dat hy twee jong meisies vermoor het. Die gesegde “Elke ouer dink sy mossie is ’n swaeltjie” is waarder as waar. In elke ouer se lewe is sy kind volmaak, omdat dit die kind se opvoeding sal beledig as hy/sy nie so oulik is as wat Mamma en Pappa glo nie. In hierdie saak het daar baie dinge skeefgeloop, en dit sou kon oorgewaai het as daar nie ’n Zander was nie. Hierdie tipe verhoudingsprobleme is ’n algemene werklikheid in die meeste mense se lewe. Ongelukkig is narsisme, psigopatie en aggressie ook ’n realiteit. ’n Mens kan maar net hoop en bid dat jou kind nooit met ’n Zander te doen gaan kry nie. Twee grafte en ’n tronksel getuig van hierdie gevaarlike en plofbare wêreld waarin ons leef.
Susan Cilliers het hierdie boek skitterend geskryf. Dit lees soos ’n krimmie, maar die foto’s ruk jou terug na die realiteit. As ek kon, sou ek lewensgroot baniere oral opsit met net hierdie woorde: Luister na jou gut feeling. Dit sal jou lewe red!
The post <em>Die Stella-moorde</em> deur Susan Cilliers, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.