Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Karoofossiele: Suid-Afrika se eerste landdiere deur MA Cluver: ’n lesersindruk

$
0
0

Titel: Karoofossiele: Suid-Afrika se eerste landdiere
Skrywer: MA Cluver
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309857

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Ken d’jy die Karoo? Hier bly slang en akkedis
Baie jare terug was daai akkedis ’n vis
Nou kry skulpe in die rotse, jy kry skedels in die klei
Hierie hele droë leegte onner water glo vir my.
                    – Onner water, David Kramer

Waar was jou eerste gewaarwording van dinosourusse? Myne was miskien toe ek ’n kind was in die 1990’s en ons almal geweet het van die movie Jurassic Park. Die skool het ons ongelukkig nie van dinosourusse geleer nie. En daardie dinosourusse moes seker almal in Amerika geleef het. Eenmaal lank gelede. Dis seker maar hoekom Hollywood dan films maak oor hulle. Die gedagte aan ons eie dinosourusse hier in Suid-Afrika, dié het eenvoudig nooit deur my breingolwe gespoel nie. Nie dat ek, oor die algemeen, veel aan dinosourusse gedink het as kind nie. Vir my was hulle maar bloot die onderwerpe van films en hulle bene is gebruik in uitstallings in stowwerige museums. Maar toe besoek ek eendag die Uilhuis op Nieu-Bethesda saam met my pa. Natuurlik het die tragiese storie van Helen Martins (1897– 1976) die verbeelding aangegryp, maar daar was iets anders aan die besoek aan dié dorpie wat my sou bybly – die uitstallings van die vreemde gediertes wat eens die Karoo bewandel het wat ons daar aanskou het.

Later van tyd sou mens ook na ’n wêreldkaart kyk en opmerk dat dit betreklik baie eienskappe van ’n legkaart bevat. Dan kom jy onder die indruk van superkontinente. Pangaea, wat later sou opdeel in Gondwana en Laurasië. So kom mens ook tot die besef dat onse Afrika en die ander kontinente dan eintlik eenmaal een groot “ons” was. Dat wetenskaplikes dieselfde soort fossiele opgrawe op die verskillende kontinente – ’n verdere aanduiding dat hulle eenmaal verbind was. Gondwana was natuurlik gewikkel in ’n ystydperk sowat 290 miljoen jaar gelede, en soos die ys later gesmelt het, het die grootste gedeelte van wat vandag Suid-Afrika is, insluitend die Karoo, inderdaad toe “onner water” beland!

Al hierdie feite en veel meer is nou, gerieflik, saamgevat in ’n wonderlike nuwe geïllustreerde boek. Die boek bevat nie net illustrasies nie, maar ook foto’s en sketse. Die skrywer, MA Cluver, is ’n dierkundige met dekades se ervaring in die paleontologie en die bewaring van die ou fossiele, verbonde aan die Suid-Afrikaanse Museum. Daar word in die boek nie net gekyk na die evolusie van al die spesies nie, daar word ook gekyk na die redes hoekom die dinosourusse uiteindelik uitgesterf het. Mettertyd sou hierdie eerste diere die eerste eienskappe van soogdiere begin ontwikkel wat deurslaggewend sou wees vir die latere ontwikkeling van die hominiede en uiteindelik ons eie spesie, homo sapien sapien. (Dat ons ons aanmatig om onsself die “wyse man” noem, vertel ’n storie uit eie reg.)

Dat die skedels van diere wat miljoene jare gelede gelewe het, tot vandag toe nog in die natuur behoue gebly het, is uit eie reg ’n wonder. ’n Wonder soos die lewe self. Die behoud van sulke fossiele in die natuur hang ook af van spesifieke kombinasies van faktore, veral die preservering van fossiele in modder. Ook hierdie saak word in die boek onder die loep geneem. Dit neem dan ook hoogs kundige mense se handewerk om hierdie soort fossiele suksesvol te kan opgrawe en ingevolge Suid-Afrika se Erfeniswet (Wet 25 van 1999) moet daar eers ’n permit bekom word vir enige opgrawings om gedoen te word. Hierdie permitte is bekombaar by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronneagentskap.

Die aantal spesies wat in die boek beskryf word, is nogals oorweldigend. Die ou bekende, stowwerige en romantiese Karoo verander tussen die blaaie van die boek in ’n vreemde wêreld waarin mens jou beswaarlik kan indink. Maar hoewel al hierdie diere uitgesterf het, leef hulle nasate tog voort; sommige, soos die krokodille, het selfs weinig verander sedert daardie jare. ’n Wonderlike deel van die boek is ’n lys met al die plekke in Suid-Afrika en Namibië waar ’n mens hierdie soort fossiele sal kan gaan aanskou. Dit is ook duidelik dat daar nog baie geheime lê wat wag om ontdek te word en wat ons as mense in staat kan stel om meer te wete te kom oor ons oorsprong en dié van ander spesies waarmee ons ons planeet deel.

The post <em>Karoofossiele: Suid-Afrika se eerste landdiere</em> deur MA Cluver: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>